SNI
IN DIE
NUUS


In die nuus


Ekonomie in die weegskaal: Werk- en loonvooruitsigte bly swak

Dinsdag, Mei 15th, 2018

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is in die weegskaal, met ambivalente mark- en politieke tendense wat ʼn rol speel en wat ekonomiese heil in die komende jare aansienlik kan bepaal. Hierdie siening word gehuldig deur die vakbond Solidariteit wat vandag die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkindeks (AMI) vir die vierde kwartaal van 2017 bekendgestel het.

Die AMI, wat deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkverslag wat in samewerking met ETM Macro Advisors saamgestel word, is ʼn aanwyser van werk- en loonsekerheid in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. Die AMI het tot net onder ʼn neutrale vlak van 50 gestyg, wat daarop dui dat sowel positiewe as negatiewe kragte die Suid-Afrikaanse arbeidsmark beïnvloed.

Die K4 2017-indeks berus op data wat opgestel is voor die belangrike politieke gebeure wat in K1 van 2018 afgespeel het. Dit sluit in die aanstelling van pres. Cyril Ramaphosa, ʼn kabinetskommeling en die kontroversiële parlementêre mosie oor onteiening sonder vergoeding.

Volgens Gerhard van Onselen, senior ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, behoort die K4-resultate met omsigtigheid vertolk te word. “Die indeks het oor die afgelope paar kwartale in die rigting van neutrale vlakke begin grens en dit staan tans op 49, wat steeds onder die 50 is. Op ons indeks behoort ʼn gesonde ekonomie wat aan die verbeter is in AMI-lesings van 55 tot 65 te reflekteer. Die K1 2018-indeks sal huidige politieke verwikkelinge in aanmerking neem en dit kan ons moontlik ʼn beter aanduiding gee van hoe politieke tendense op werk- en loonsekerheid asook op sakevertroue inwerk.”

Van Onselen het bygevoeg dat alhoewel sakesiklustendense ietwat fermer was in K4 2017 in vergelyking met 2016, en wat hoofsaaklik te danke was aan buitelandse herstel, verbeterde kommoditeitspryse en ʼn sterker rand, dui onlangse sakesiklustellings steeds op stram saketoestande.

Die AMI het in K4 2017 tot 49 gestyg van ’n onaangepaste 48 in K3. Van die indeks se drie subkomponente, het die werknemersvertroue-indeks se skerp styging tot 50 in K4 van ʼn vlak van 45 in K3 die grootste bydrae tot die algehele styging in die indeks gelewer. Arbeidsbekostigbaarheid het van 42 in K3 tot 43 in K4 gestyg, wat ook tot die algehele styging bygedra het. Die komponent van die sakesiklusindeks het van 56 in K3 tot 53 in K4 teruggesak, wat die algehele indeks afgetrek het.

Vir werknemers is die lae telling vir arbeidsbekostigbaarheid, wat die Indeks steeds terughou, veral van groot belang. “Lae tellings vir arbeidsbekostigbaarheid dui daarop dat dit onwaarskynlik is dat aansienlik verbeterde indiensneming- en vergoedingstoestande sal realiseer tensy die positiewe buitelandse ekonomiese momentum opgevolg word met behoorlike markgedrewe en beleggingsvriendelike hervormings in regeringsbeleid,” het Van Onselen gesê. Hy het bygevoeg dat Solidariteit van mening is dat talle kwartale van groei nodig sal wees om die ekonomiese skade en stagnasie voortspruitend uit die Zuma-jare ongedaan te maak.

Solidariteit het met kommer kennis geneem van die parlement se aanvaarding van die mosie van onteiening sonder vergoeding omdat dit daarop dui dat die Ramaphosa-regering bereid is om met die idee van breë nasionaliseringsbeleide en die drastiese verswakking van privaat besitreg in Suid-Afrika te flankeer.

“In die lig van die rampspoedige gevolge van die nasionalisering van grond in talle ander lande, is dit slegs redelik om te verwag dat plaaslike en internasionale beleggers ernstige voorbehoude hieroor sal hê,” het Van Onselen gesê.

Vir die volledige Arbeidsmarkrapport, klik hier.
Om na Van Onselen se klankgreep te luister, klik hier.



Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close