In die nuus


Groot Gesels – Rothbard

Woensdag, Mei 23rd, 2018

Agtergrond oor die skrywer

Murray Newton Rothbard (1926-1995) was ongetwyfeld een van die voorste voorstanders van die Oostenrykse skool van ekonomiese denke – na my oordeel staan hy wat ekonomiese en politiese ontledings en insigte betref slegs vir die toonaangewende Ludwig von Mises terug. Sy bydraes, wat van onskatbare waarde is, bestryk ekonomiese, geskiedkundige asook politieke studieterreine. Sy werk word gekenmerk deur sy vermoë om komplekse, deurtastende teorieë te formuleer en dit op ‘n eenvoudige, maar buitengewoon kragtige wyse aan te bied. Na my mening is hy een van die mees aanhaalbare ekonome wat ooit oor die onderwerp geskryf het.

 

Inleiding

Hierdie week gaan ons fokus op wat die staat nie is nie, soos uiteengesit in Rothbard se klein, maar hoogs waardevolle werk, The Anatomy of the State. Vir diegene wat belangstel in die onderwerpe ekonomie of staatkunde, maar huiwer om sommige van sy groter werke te takel, soos Man, Economy, State of Power and Market  (wat gesamentlik meer as 1500 bladsye beslaan, is hierdie juweeltjie van sowat 60 bladsye die perfekte inleiding tot die denke van Rothbard en van die bogenoemde Oostenrykse skool.

 

Die Groot Debat

Rothbard begin sy ondersoek deur die verskillende beskouings van die staat daar te stel wat blykbaar in die samelewing gehuldig word (en wat hy daarna almal verwerp). Hy noem die volgende sienings: Sommiges beskou dit as die toppunt van die samelewing; ander as ‘n goed bedoelde, maar desnieteenstaande ondoeltreffende  organisasie om maatskaplike doelwitte te bereik; en ten slotte, sê Rothbard, glo feitlik almal dat dit ‘n nodige middel is om die maatskaplike doelwitte te verwesenlik wat binne die “privaatsektor” onmoontlik sou gewees het.

 

Nadat Rothbard elkeen van die hierbo vermelde aannames verwerp het, brei hy vervolgens daarop uit deur die opvatting dat die staat op enige manier met die samelewing geïdentifiseer kan word, krities te ondersoek. Eerstens: as dit so sou wees dat die staat die kollektiewe wil van die samelewing verteenwoordig, in die sin dat sommiges kan sê “ons is die regering”, dan sou enige optrede deur die regering outomaties as vrywillig ten behoewe van die burgery geag moet word. Enorme openbare skuld, buitensporige belastinglaste en selfs volksmoord deur middel van die regering is nie tiranniek nie; inteendeel, omdat die publiek daartoe ingestem het, kan ‘n mens selfs sê dat die burgers dit inderwaarheid “aan hulself doen”. Die Jode in Duitsland onder die Nazis is dus nie doodgemaak nie, maar het selfmoord gepleeg, want die samelewing is die regering. Daarbenewens kom die vraag van regeringsinkomste ook ter sprake. Belastings is nie, soos in die geval van die privaatsektor, ‘n vorm van vrywillige uitwisseling tot voordeel van beide partye nie. Inteendeel; belasting is die gebruik van verpligting, mag of dwang, en die bedreiging van die tronk word aangewend om individue te dwing om die vrugte van hul arbeid aan die regering af te staan.

 

Besinning

Rothbard lewer vlymende kritiek op die denkbeeld van die staat. Hoewel hierdie en soortgelyke argumente gemeenplase kan wees vir mense wat hulself binne die dampkring van libertariese of  anargokapitalistiese denke plaas, is hulle nogtans van kernbelang in die demontering van die sprokie rondom mense se begrip van die staat – want, soos Rothbart self skryf, die miasma van mitologie het so lank oor staatsaktiwiteite gelê dat daar nader op ingegaan moet word.

 

Talle mense kan Rothbard inderdaad as ‘n radikalis beskou. Talle van sy kritiese geskrifte is egter nie slegs op bewyse uit die wêreldgeskiedenis gebaseer nie, maar is ook deel van baie van die basiese leerstellings wat selfs deur statiste onderskryf word. Wat is die konsep van konstitusionalisme (hoever dit ook al mag tekortskiet) anders as ‘n erkenning dat die Staat aan bande gelê moet word, omdat dit (uit die aard daarvan) inbreuk op die regte van sy burgers sal maak? In dieselfde trant poog die oppergesag van die reg om die Staat aan ‘n stel reëls onderhewig te stel. Hoe oneffektief hierdie maatreëls ook al mag wees, bevestig hulle almal die denkbeeld dat die Staat inderwaarheid nie die wil van die volk verteenwoordig nie, maar eerder probeer om sy alleenreg op geweld en die gebruik van mag binne ‘n grondgebied te handhaaf.

 

‘n Regering wat die welvaart van 30% van die bevolking onder die ander 70% herverdeel doen dit nie met die vrywillige instemming van die minderheid nie. Dit verteenwoordig nie die samelewing of die wil van die volk op enige beduidende wyse of selfs net vaagweg nie. ‘n Mens kan egter daarop reken dat dit alles sal doen wat nodig is om sy posisie te verewig as die enigste instelling wat wettiglik mag kan gebruik om sy inkomste te bekom en die lewens van sy onderdane re reël.

 

By hierdie punt kan ‘n mens jou afvra: “As die regering dan nie ’n liggaam is wat die wil van die samelewing in besonderhede verteenwoordig nie, wat is dit dan?” Die beantwoording van hierdie vraag vereis ‘n verdere artikel, en ek wil die leser aanmoedig om hierdie reeks verder te volg.



Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close