In die nuus


Russell Lamberti en Gerhard van Onselen bespreek die SA makro-ekonomie en die gesondheid van die arbeidsmark

Dinsdag, Maart 27th, 2018

In hierdie gesprek gesels Morné Malan (Solidariteit Navorsingsinstituut) met Russell Lamberti (ETM Macro Advisors) en Gerhard van Onselen (Solidariteit Navorsingsinstituut). Die onderwerpe sluit die volgende in:

  • Solidariteit-ETM-arbeidsmark-indeksresultate en ’n breër siening van die gesondheid van die arbeidsmark
  • Die vooruitsigte vir loonverhogings en werksekerheid
  • Die SA makro-ekonomiese omgewing, insluitende die rand en die onlangse styging in bankaandele

Klik hier om die Arbeidsmarkverslag aanlyn te lees.

Die Afrikaanse transkripsie van die onderhoud volg hieronder. 

Malan: Hallo, my naam is Morné Malan van die Solidariteit Navorsingsinstituut. By my is Gerhard van Onselen, senior ekonomiese navorser by die SNI, en Russell Lamberti, hoofstrateeg by ETM Macro Advisors. Ons is hier om die jongste weergawe van die Solidarity-ETM-arbeidsmarkverslag te bespreek.

Gerhard, eerstens, wat is die doel van die verslag?

Van Onselen: Wel, dit is eintlik die Solidarity-ETM-arbeidsmarkverslag en indeks. En die indeks is basies ‘n meting van werk- en loonsekerheid in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.

Malan: Russell, wat is die resultate van die jongste verslag? Dit is vir die vierde kwartaal van 2017.

Lamberti: Die indeks daal al etlike jare lank. Dit toon dus baie slegte nuus. Arbeidsmarkte is taai, en werk- en loonsekerheid is maar swak. Heel onlangs het die indeks effens verbeter en dit is nou min of meer in neutrale gebied, wat beteken dat werknemers nie meer of minder veilig voel nie. Die sakesiklus is in taamlik neutrale gebied. Die bekostigbaarheid van arbeid bly baie laag. Ons moet baie meer ekonomiese groei kry om (arbeids)bekostigbaarheid te verbeter.

In die geheel is dit dus ’n gemengde prentjie, met ’n bietjie goeie nuus wat dalk begin deurkom; ’n bietjie minder mistroostig as in 2016 en 2017, en dit kan dus beter nuus vir 2018 wees.

Malan [1:37]: Gerhard, die indeks beweeg nader aan neutraal, wat 50 is. Waar sou jy verwag dat ’n gesonde ekonomie sal wees? Waar sou jy verwag dat hierdie indeks sal wees?

Van Onselen [1:49]: Dis reg, die indeks het in die vierde kwartaal van 2017 van 48 tot 49 verbeter. ’n Gesonde ekonomie is ’n ekonomie wat groei; ons sou verwag dat die indeks op ongeveer 60 sal staan, wat baie hoër is as wat die indeks tans vertoon.

 

Malan [2:06]: Russell, daar is ook verskeie makro-ekonomiese kwessies ter sprake. Een daarvan is die nywerheidsproduksiesyfers. Wat is jou kommentaar daarop?

Lamberti [2:15]: Die vervaardigingsektor in SA is al die afgelope tien jaar op pad na nêrens. Die sektor word geknel deur aaklige nywerheidsbeleid, te veel regulering en heeltemal te veel handelsversperrings. Die afgelope paar jaar het kommoditeitspryse egter herstel vanaf hul laagtepunte in 2014 en 2015. Dit help die mynbousektor om ’n bietjie te herstel. Ons sien dat dit deursypel na die vervaardigingsektor, aangehelp deur wêreldvraagfaktore wat ook ietwat verbeter het.

As jy na die nywerheidsektor as geheel kyk, was daar die afgelope paar maande ’n paar verbeterings, maar weer eens, die algehele nywerheidsuitset is steeds laer as wat dit in 2006 en 2007 was. Ons het dus oor die afgelope jaar of wat verbeter, maar oor die afgelope 10 jaar was daar feitlik geen verbetering nie. Dit is eintlik, na my mening, die groot agtergrond van hierdie tipe strukturele stagnasie wat Suid-Afrika ondervind.

Ons produseer omtrent net soveel elektrisiteit as 10 jaar gelede. Vertroue in die boubedryf bly swak, en in die vervaardigingsektor het dit nou net effens verbeter. Selfs mynbou – kommoditeitspryse is hoog, maar dan word die rand sterker, wat dit moeiliker maak om goeie inkomste vir die mynbedryf te verdien. En ons weet dat die beleid agter die mynbousektor regtig uitdagend is, met dinge soos die mynbouhandves. In die geheel was daar dus onlangs goeie stories, maar die langtermynprentjie is maar swak.

Malan [3:49]: Jy het die rand genoem, natuurlik is dit sleg vir die mynbousektor, maar vir Suid-Afrika as geheel? Is dit nie heeltemal positief nie?

Lamberti [3:54]: Wel, kyk dit is nie eers noodwendig net sleg vir die mynbousektor nie, want myne moet baie insette invoer en dit beteken hulle kry beter pryse met ‘n sterker rand. ’n Sterker rand is ook goed vir laer koste van kapitaal, meer spaargeld, beter kapitaalophoping en investering in die nywerheidsektore. En natuurlik vir verbruikers, vir vervaardigers, ons is erg blootgestel aan die wêreldekonomie, ons voer baie goedere in. ’n Sterker rand maak invoergoedere dus goedkoper. Dit is goed vir sake. Dit sal waarskynlik vir maatskappye ’n mate van margeverligting bring en dalk selfs werksekerheid effens verbeter. Vir verbruikers is ’n sterker rand beslis goeie nuus.

Kleinhandelverkope vertoon altyd goed wanneer die rand sterk is; dit hou pryse in bedwang en hou inflasie betreklik laag. In hierdie tipe omgewing sal die Reserwebank nie koerse aggressief verhoog nie en hy kan dalk selfs koerse verlaag. En dit is dus die agtergrond, ’n sterk rand is altyd goed vir die Suid-Afrikaanse ekonomie; daar is verskeie groepe mense wat sê ons het ’n swakker geldeenheid nodig, maar ons weet almal dat wanneer die geldeenheid verswak, pryse te veel styg en dinge word baie duur om in te voer en dit is nie goed vir SA nie.

Malan [5:05]: Terug by die indeks, Gerhard, wat beteken hierdie syfers in die praktyk vir gewone Suid-Afrikaners? Hoe moet hulle voel en presies wat sê dit vir hulle oor die arbeidsmark in Suid-Afrika?

Van Onselen [5:19]: Ek dink eintlik moet ons die indeks beskou as dat dit neutraal is. Ons verwag dus nie ’n geweldige opbloei in indiensneming of loonskikkings nie. Ons sien ook dat die bekostigbaarheid van arbeid onder druk verkeer en die indeks afrem. Wel, die sekerheid wat werknemers in hul werk het, dit staan op neutraal, maar dit is ook nie besonder goed nie. En dan ook sakesiklusaanwysers, hulle het ietwat verbeter maar is nog steeds nie werklik in bloeigebied nie. Eintlik is dit ’n moeilike arbeidsmark; dit is beter as ’n paar kwartale gelede, maar eintlik is dit nie regtig baie sterk nie.

Lamberti [5:57]: Dit sê nie regtig veel nie, want die arbeidsmark was onder kwaai druk.

 

Van Onselen [6:01]: Presies.

 

Malan [6:04]: Verbeter dit dan vanaf ’n baie lae basis?

 

Lamberti [6:06]: Dit verbeter vanaf ’n lae basis, en ek dink wat dit vir mense daar buite beteken is dat hulle in ’n omgewing is wat steeds baie moeilik en baie taai is. Daar is ’n mate van verligting wat deurkom. Dis nie die tipe omgewing wat tipies met aggressiewe looneise en aggressiewe werkonderhandeling geassosieer word nie. Dit is steeds ’n taai ekonomie daar buite.

Malan [6:32]: Hierdie syfers is in groot mate nog die gevolg van die Zuma-era, nie waar nie? Ondanks die verbetering kan dit in groot mate nie regtig aan die nuwe ontwikkelings toegeskryf word nie.

Lamberti [6:40]: Nee, die politiek, die politieke veranderinge wat ons onlangs gesien het: A, is baie onlangs, en B, is ’n bietjie dubbelsinnig. Ons het in sekere opsigte ’n beter afgeronde president, maar in ander opsigte het die stemming in die parlement oor grondonteiening ’n geweldige hoeveelheid politieke onsekerheid geskep. So ja, ons sien dat dit die finansiële markte bevoordeel, die sterk rand in Desember, Januarie, Februarie, maar dis nog te vroeg om dit in die harde ekonomiese syfers te sien, wat vroeg vanjaar (2018) kan begin deurkom.

Malan [7:22]: In watter mate dink jy die verbeterings wat ons sien, hou verband met eksterne internasionale faktore pleks van interne faktore wat ’n mate van verbetering toon in die Suid-Afrikaanse ekonomie?

 

Lamberti [7:30]: Dit is ’n belangrike vraag en ek dink dit die vraag op die oomblik. Tot dusver was dit hoofsaaklik ’n buitelands gedrewe storie. China het na 2015 en 2016 gestabiliseer. Amerika se ekonomie groei weer. Europa se ekonomie groei. Dit is groot handelsvennote van Suid-Afrika. Dit is dus wat dinge laat verbeter, maar as jy hier dieper kyk, sien jy nie veel plaaslike verbetering nie. Dit word in sekere opsigte in die indeks weerspieël, naamlik dat daar nie ’n groot beweging is om nuwe personeel aan te stel nie, ondernemings brei nie vinnig uit nie, investeringsvlakke bly maar laag. Daarom dink ek, met politieke veranderinge wat onlangs plaasgevind het, beleggers moet ten minste ’n paar jaar, dalk selfs vyf jaar, van goeie beleid sien.

Jy weet mense het seergekry in die afgelope tien jaar onder die Zuma-era. Dit gaan ’n tyd neem voordat hulle die ANC weer sal vertrou en voor hulle beleid sal vertrou. Dit is die lang herbouproses wat nou plaasvind. Ons gaan dit nie onmiddellik in die plaaslike syfers sien nie, dit is nog ’n buitelandse dinamiek. En gevolglik, as die buitelandse ekonomie, as die wêreldekonomie verlangsaam, ’n resessie beleef, die een of ander finansiële krisis ondervind, is Suid-Afrika baie broos in hierdie soort posisie. Ons is plaaslik nie sterk genoeg nie, dink ek, jy sal opnuut druk op die geldeenheid sien en dies meer. Op die oomblik kan ons ons sterre dank dat die wêreldekonomie ’n mate van herstel beleef.

Malan [9:06]: ’n Goeie aanwyser van die Suid-Afrikaanse ekonomie is die JSE se bankindeks. En jy het ook daarna gekyk in ons makro-ekonomiese prentjie. Wat het jy daaruit wys geword?

Lamberti [9:20]: Bankaandele was vroeg in 2016 onder baie groot druk. Onthou dat die minister van finansies, Nhlanhla Nene, baie onverwags in die pad gesteek is. Ons het ’n nuwe minister van finansies gehad en toe het Pravin Gordhan oorgeneem. Maar dwarsdeur daardie onsekerheid was daar ’n gevoel dat die staat ten diepste gekaap is, dat die staat diep korrup was en dat dinge soos die Tesourie, die SARB, die Inkomstediens en andere in erg korrupte hande sal val.

Die gevolg was dat verwagtinge van rentekoerse baie hoog gestyg het. Die mark het begin verwag dat die SARB koerse gaan verhoog en gevolglik het banke baie huiwerig geword om geld uit te leen. En dit alles het verander, of altans baie het verander, mense verwag nou dat die SARB rentekoerse gaan verlaag, daar is baie meer politieke sekerheid, reken ons. Daar is minder ’n gevoel dat ons op ’n baie slegte politieke pad is.

Gevolglik kry die banke meer vertroue en die mark het bankaandele pas hoër aangeslaan. Die gevolg is dat aandeelpryse van banke die afgelope paar weke met 30% gestyg het. Banke is ’n goeie barometer van verwagtinge van wat in die plaaslike ekonomie gaan gebeur. Dit staan te besien of daardie verwagtinge werklikheid gaan word, maar die mark is vol vertroue in die banksektor.

Malan [10:40]: Dit is dus ’n redelik optimistiese prentjie vergeleke met waar ons verlede jaar was. Wat is jou verwagtinge vir die toekoms? Kan ons hervormings verwag? Wat kan ons in die plaaslike ekonomie verwag?

Van Onselen [10:52]: Wat hervormings betref, moet ons die Ramaphosa-administrasie tyd gee om homself te laat geld en hierdie nodige hervormings teweeg te bring, maar tot dusver het ons eintlik nog nie ’n groot afwyking gesien nie. Ek dink die begroting was nie ‘n baie groot afwyking van vorige ANC-beleid nie. Ons hoop hervormings gaan teweeggebring word. Daar is tekens dat moontlike hervormings by staatsbeheerde ondernemings aan die kom is, maar eintlik moet ons steeds baie waaksaam wees en kyk wat gebeur.

Malan [11:24]: Russell, Gerhard, baie dankie vir julle insigte. Ek is Morné Malan van die SNI. Geniet die dag.

  •  
  •  
  •  
  •  


Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close