In die nuus


Skadelike beleid vererger impak van ekonomiese skokke – Solidariteit

Woensdag, Februarie 10th, 2016

Die Suid-Afrikaanse regering se skadelike beleid vererger die impak van internasionale ekonomiese skokke op die plaaslike ekonomie. Terwyl laer kommoditeitspryse en ander eksterne struikelblokke Suid-Afrika se huidige groeivooruitsigte strem, dra hierdie faktore nie die grootste deel van die skuld vir die plaaslike ekonomiese verswakking nie.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), presteer Suid-Afrika heelwat swakker as van sy eweknieë wat met soortgelyke eksterne uitdagings te kampe het. “Suid-Afrika is nou, wat dollar-aangepaste BBP per capita-groei betref, op gelyke voet met lande waar daar oorloë, politieke onrus of groot finansiële onstabiliteit is,” waarsku Van Onselen.

Dít is een van die bevindinge van die vakbond Solidariteit en ETM Analytics in die nuutste uitgawe van hul Arbeidsmarkrapport, ’n kwartaallikse kommentaar op arbeidsmarkgebeure.

Van Onselen het bygevoeg dat daar sedert 2007 ʼn strukturele verswakking in die plaaslike arbeidsmark heers. Die Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks, ʼn maatstaf van werk- en loonsekerheid in die SA arbeidsmark, was sedert Desember 2007 vir slegs 3 uit 32 kwartale bokant 50, wat dui op blywende skade wat aan die plaaslike ekonomie aangerig is.

Van Onselen meen daar sal dringend met inmengende beleide, asook beleidsonsekerheid in Suid-Afrika, weggedoen moet word om die impak van eksterne ekonomiese skokke te versag. Die president kan, deur in sy komende staatsrede sulke beleidshervorming aan te kondig, die ekonomie weer op ʼn goeie koers plaas.

“Verskeie omstrede beleide en wette is egter tans besig om deurgevoer te word, waaronder die Wetsontwerp op Onteiening wat pas deur die betrokke parlementêre portefeuljekomitee aanvaar is. Daarby is die beoogde nasionale minimumloon ʼn verdere inmengende beleid wat ekonomiese skade sal aanrig indien dit geïmplementeer word,” sê Van Onselen.

Van Onselen waarsku voorts dat groeiende staatskuld stadigaan ekonomiese groei in Suid-Afrika wegkalwe. Bruto vlakke van Suid-Afrika se staatskuld in die mediumtermynbegroting van Oktober 2015 is vir die 2015-boekjaar op byna 47% van die BBP aangedui.

“Snelgroeiende skulddienskoste is reeds besig om die staat se begroting onder groot druk te plaas. Daarmee saam is hoër staatsbesteding nadelig vir die ekonomie. Selfs al word staatskuld deur hoër inflasie gestabiliseer, word die ekonomie in die algemeen, en verbruikers in besonder, deur die uitwerking van inflasie benadeel,” sê Van Onselen.

Ander onderwerpe wat in die nuutste Arbeidsmarkrapport onder die loep kom, is:

  1. Mislukte ekonomiese beleid van die SA regering
  2. Hoër minimumlone is soos monetêre beleid
  3. BBP-verhoudings: Verbloeming deur inflasie
  4. Makro-ekonomie: Swak rand bring resessiegevaar

Klik hier om die volledige Arbeidsmarkrapport af te laai.

  •  
  •  
  •  
  •  


Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close