SNI
IN DIE
NUUS


In die nuus


Solidariteit petisioneer die parlement om sinnelose reddingsboeie aan SAL te staak

Woensdag, Mei 23rd, 2018

Solidariteit het vandag in ʼn petisie aan die parlement gevra dat ʼn debat rondom die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in die nasionale vergadering gehou moet word. Solidariteit versoek dat die regering hom by sy aansoek vir besigheidsredding van die lugdiens moet skaar en die reddingsboeie wat aanhoudend tot sy beskikking gestel word en wat telkens op niks uitloop nie, moet staak.

Dit volg nadat ʼn verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor die stand van die SAL vandag in Kaapstad bekendgemaak is waarin bevind word dat daar geen ander keuse is as om die SAL onder besigheidsredding te plaas nie.

Die verslag wys onder meer daarop dat die SAL geen ag geslaan het op die groot verandering wat sedert 2013 in die lugvaartbedryf ingetree het nie. Die wanbestuur het ʼn diep verliesmakende lugredery, wat eindelose reddingsboeie ontvang het net om ondoeltreffend staande te bly, tot gevolg gehad. Die SNI-verslag wys die strategiese imperatiewe uit wat gevolg moet word om die SAL om te draai en winsgewend te maak. Die verslag toon ook aan dat die SAL dit nie sonder eksterne ingryping kan bereik nie.

Solidariteit gaan binne die volgende twee weke stukke op die SAL beteken waarin die hof gevra gaan word om die SAL onder besigheidsredding te plaas. Solidariteit het ook die minister van finansies gevra om die hof saam met Solidariteit te nader vir ʼn voorkeurdatum om hierdie aangeleentheid spoedig te hanteer sodat vinniger sekerheid oor die SAL bereik kan word.

Verder lui die verslag ook dat die regering as enkelaandeelhouer die konstante faktor in die SAL se mislukking is. Die omvang van die regering se nalatigheid as aandeelhouer word bewys deurdat die SAL-raad al in 2014 ʼn resolusie aanvaar het om die SAL onder besigheidsredding te plaas en om ʼn strategiese vennoot te soek. Nie een van die twee aanbevelings is deurgevoer nie.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, gaan die SAL-saak een van die grootste belastingproteshofsake in Suid-Afrika wees. “Indien ons suksesvol is, kan dit ʼn presedent vir soortgelyke aksie by ander staatsinstellings skep. Belastingbetalers het nou die kans om die howe te gebruik om die regering verantwoordbaar te hou,” sê Mulder.

Om die volledige verslag te lees, klik hier.
Om die volledige petisie te lees, klik hier.



Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close