In die nuus


Vakbonde in Suid-Afrika – ‘n oorsig

Dinsdag, Maart 17th, 2015

Toe die Transvaal Miners’ Association in 1902 gestig is, was die vakbondwese in Suid-Afrika minder as 20 jaar oud. Baie vakbonde het sedertdien gekom en gegaan, met Solidariteit – die Transvaal Miners’ Association onder sy hedendaagse naam – staande as die oudste vakbond in die land. Na raming behoort 3,86 miljoen mense tot 183 geregistreerde en ʼn paar ongeregistreerde vakbonde. Om die plaaslike ekonomie en politiek behoorlik te kan verstaan, is kennis van die georganiseerde arbeidslandskap in Suid-Afrika onontbeerlik.

Alhoewel regulasies vol draadwerk sommige ramings kompliseer, is daar twee eienskappe wat kenmerkend is van Suid-Afrikaanse vakbondformasies in 2015. In die eerste plek is die meer invloedryke vakbonde (ongeveer 70 van hulle) in vakverbonde, oftewel vakbondfederasies, georganiseer. Solidariteit en een of twee ander groot vakbonde is uitsonderings op die reël. In die tweede plek sal vakbonde met soortgelyke doelwitte, waardes en ideologieë by dieselfde vakverbond aansluit, met sommige groeperinge wat hulle uitdruklik by ʼn politieke party skaar. Ons skets die arbeidslandskap hieronder met hierdie kenmerke in gedagte, gevolg deur sleutelverwagtings vir 2015 waaroor ons met Gideon du Plessis, Solidariteit se hoofsekretaris, gesels het.

Congress of South African Trade Unions (Cosatu)

Cosatu is Suid-Afrika se grootste vakverbond en verteenwoordig ongeveer 1,9 miljoen lede. Cosatu, die African National Congress (ANC) en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) vorm die drieparty-alliansie. Sewentien geregistreerde vakbonde is tans by Cosatu geaffilieer. Dit neem die onlangse skorsing van die metaalwerkwersvakbond Numsa in ag.

Cosatu het baie invloed omdat hy so baie lede het (werklik of oordrewe) en omdat hy deel van die drieparty-alliansie is. Onlangse gebeure dui egter daarop dat die vakverbond ʼn minder bestendige tydperk van sy bestaan betree. Alhoewel Cosatu reeds vir etlike jare betrokke is by wat hulle die “stryd om sosialisme” noem, sal interne beroerings waarskynlik ‘n verdere skuif en ideologiese herposisionering na die politieke linkerkant tot gevolg hê.

Die Nasionale Unie van Mynwerkers (Num), die Nasionale Onderwys-, Gesondheid- en Verwante Werkersvakbond (Nehawu) en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) is die drie grootste Cosatu-geaffilieerdes. Volgens Cosatu se eie 2012-ramings het Num ongeveer 310 000 lede, Nehawu 267 000 lede en Sadou 251 000 lede.

Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa)

Met ramings in die omgewing van 500 000, is Fedusa die tweede grootste vakverbond in Suid-Afrika. Teen Desember 2014 was daar by die departement van arbeid 21 vakbonde by Fedusa geregistreer. Alhoewel Fedusa ingryp wanneer dit nodig is, is hy en sy geaffilieerdes gewoonlik minder militant as Cosatu en die Nasionale Raad van Vakbonde (Nactu), nog ʼn vakverbond. Fedusa ondersteun groot regeringsprogramme soos die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), werkloosheidsversekering en spesifieke “werkskeppingsbeleide”.

Die Vakbond vir Gesondheids- en Ander Dienstepersoneel van Suid-Afrika (Hospersa) met na skatting 60 000 lede, die Onafhanklike Munisipale en Aanverwante Vakbond (Imatu) met na skatting 73 000 lede, en UASA wat 72 000 lede verteenwoordig, is van Fedusa se groter geaffilieerdes. Nog ʼn invloedryke vakbond waarvan mens moet kennis neem is die United National Transport Union (Untu), voorheen bekend as Utata Sarwhu, ʼn samesmelting tussen die vakbond vir vervoer en verwante bedrywe (Utatu) en Suid-Afrikaanse Spoorweg- en Hawensvakbond. Alhoewel Untu se ledetal nie bekend is nie, word daar beraam dat dit aansienlik is.

Nasionale Raad van Vakbonde (Nactu)

Nactu is die derde grootste vakverbond. Nactu beskryf homself as ʼn beweging wat hom “beywer vir die skepping van ‘n regverdige samelewing waar politieke mag in die hande van die werkers sal wees”. Voor die algemene verkiesing van 2014 het Nactu die EFF en die PAC luidkeels ondersteun en gesê die EFF en die PAC dra die belange van die werkers die sterkste op die hart. Dit verduidelik die organisasie se politieke voorkeur.

Nactu het na beraming 400 000 geaffilieerde lede en dit sluit die Vereniging van Myn- en Konstruksiewerkers (Amcu) in. Amcu het ʼn belangrike rol in die 2014-platinumstaking gespeel: een van die langste en duurste stakings in die onlangse geskiedenis.

Konfederasie van Suid-Afrikaanse Werkersunies (Consawu)

Consawu is die kleinste van die vier vakverbonde. Sy geaffilieerde lede word op 170 000 geraam. Consawu se ondersteuning is aan die verswak, veral nadat Solidariteit ʼn paar jaar gelede uit die vakverbond getree het.

Groter onafhanklike vakbonde

Die Solidariteit Vakbond verteenwoordig ongeveer 140 000 lede en is een van die grootste onafhanklike vakbonde. Die ander twee is die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) en die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (SAPU).

Die Solidariteit Vakbond vorm deel van die groter Solidariteit Beweging wat nie-vakbondorganisasies wat uit die vakbond ontstaan het, soos ʼn tegniese kollege, ʼn burgerregteorganisasie en ʼn liefdadigheidsorganisasie insluit. Die Solidariteit Beweging het meer as 250 000 lede. Aangesien Solidariteit uit ʼn Christen-demokratiese vakbondtradisie ontwikkel het, ondersteun hy vryemarkbeginsels – ‘n kenmerk wat Solidariteit van die algemene sosialistiese vakbondtradisie in Suid-Afrika onderskei.

Die VSA, wat sê dat hy 235 000 lede verteenwoordig, het ʼn aansienlike voetspoor in die openbare sektor. Die polisievakbond, Sapu, verteenwoordig ongeveer 81 000 SAPD-lede.

Wat om in 2015 te wagte te wees

Solidariteit se hoofsekretaris, Gideon du Plessis, verwag dat 2015 ʼn opwindende jaar in die arbeidsomgewing gaan wees. Alhoewel dit moeilik is om voorspellings te waag, en dit natuurlik onderhewig is aan onverwagse gebeure en veranderlike omstandighede, voorsien Du Plessis die volgende moontlikhede vir 2015:

  • Daar word verwag dat Cosatu na binne sal fokus en sal probeer om ‘n skeuring binne die organisasie by te lê. Dit lyk of ʼn skeuring plaasgevind het rondom ondersteuning vir en teenkanting teen president Zuma. Numsa het president Zuma fel gekritiseer en geëis dat hy bedank oor sy beweerde betrokkenheid by die Nkandla-skandaal. Dit het gebeur voor Numsa se skorsing uit Cosatu. Dit gaan waarskynlik moeilik wees om die teenstrydige faksies te versoen. Cosatu sal homself moontlik nader aan die politieke linkerkant herposisioneer om die drieparty-alliansie te probeer beskerm. Daar word verwag dat die ANC alles in sy mag sal doen om die drieparty-alliansie te behou. Dit kan beteken dat belangrike politieke gebeurtenisse hulle in 2015 kan afspeel; daar kan selfs hernude druk wees om president Zuma te vervang. 
  • Fedusa sal na verwagting voortgaan in sy stryd om homself in die arbeidsomgewing te definieer. Fedusa met sy gematigde aanslag probeer om beide besigheid en arbeid gelukkig te hou en beweeg beurtelings nader aan die DA, die ANC, Cosatu, besigheid en arbeid. Hierdie posisie kan dit vir Fedusa moeilik maak om ondersteuning van enige bepaalde groep te verkry. 
  • Nactu sal die skeuring in Cosatu probeer uitbuit om invloed en lede van Cosatu te wen. In November 2014 het Nactu Numsa genader oor ʼn nuwe, onafhanklike vakverbond; daar was ook sprake van ʼn nuwe politieke party, die United Front. Só ʼn vakverbond sal moontlik polities links en radikaal wees en homself ten doel stel om Amcu, Numsa en militante sosialistiese partye soos die EFF te lok. 
  • Consawu se ondersteuning sal waarskynlik verder kwyn. Binne-inligting wil dit hê dat van Consawu se groot befondsers besig is om hul steun te onttrek. Voortgesette verlies aan steun sonder ʼn effektiewe ommekeer kan veroorsaak dat Consawu met een van die ander vakverbonde saamsmelt, miskien met Nactu of Fedusa. 
  • Stakings en taai loononderhandelings word in die goudsektor verwag. Twee vakbonde, Amcu en Num, gaan in die goudsektor meeding. Amcu het tydens onderhandelinge in 2013 aansien by die Kamer van Mynwese verloor. Hulle sal bepaald met hernude ywer tot vanjaar se onderhandelings in die goudsektor terugkeer, aangevuur deur die 2014-platinumstakings. Num sal drasties moet optree om sy relevansie te behou. Kortom, Amcu mag staak om veld te wen terwyl Num mag staak in ‘n poging om relevant te bly. 
  • Nehawu sal na verwagting ‘n aktiewe rol speel in die openbaresektor-loononderhandelings in ʼn poging om in dié sektor veld te wen. ʼn Driejaar-loonooreenkoms wat in 2012 onderteken is, verval in Maart 2015 en nuwe eise sal gestel word. Nehawu het aangedui dat hy ʼn eenjaar-ooreenkoms sal nastreef met onder andere ʼn 15%-verhoging en ʼn R3 000-behuisingsubsidie. Dit is onmoontlike eise, aangesien die regering onder groot finansiële druk verkeer. 
  •  
  •  
  •  
  •  


Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close