In die nuus


Verbloeming deur inflasie: BBP-verhoudings oor ’n verloop van tyd

Woensdag, Februarie 10th, 2016

Deur Gerhard van Onselen, Ekonomiese Navorser: Solidariteit Navorsingsinstituut

Twee van die belangrikste dokumente wat die regering publiseer is die nasionale begrotingsoorsig in Februarie en in Oktober die mediumtermyn-begrotingsraamwerk, in die volksmond bekend as die mini-begroting. Al lees nie-finansiële, nie-ekonomiese lesersgroepe selde al die besonderhede daarin, is dié dokumente van aansienlike belang. In hulle word die regering se bestedingsplanne en vooruitskattings op medium termyn breedvoerig uiteengesit. Selfs al lees min dié dokumente, word almal in Suid-Afrika se lewens beïnvloed deur die verreikende gevolge van regeringsoptrede soos daarin uitgestippel.

Durf ’n mens wel die begrotingsdokumente aan, is dit deurspek met tegniese vaktaal. Dit neem desondanks nie lank nie of ’n enkele makro-ekonomiese meting tree as die spilpunt na vore. Die syfer waarom als duidelik draai, is die bruto binnelandse produk (BBP): ’n aanduiding van die finansiële waarde van alle goedere en dienste wat in ’n ekonomie geproduseer word. Ratio’s wat op BBP-syfers gebaseer word, dien inderdaad as algemeen aanvaarde norms wat met arendsoë dopgehou word deur plaaslike en internasionale beleggers en ontleders van staatsfinansies, soos kredietgraderingsagentskappe.

Skuldvlakke, tekorte op die lopende rekening, belastinginkomste en staatsbesteding word gereeld as ’n ratio of persentasie van die BBP uitgedruk. Skuld tot BBP is maar net een voorbeeld van so ’n ratio. Dié ratio’s lewer kommentaar op die omvang van ’n regering se begrotingsitems in verhouding tot ’n land se BBP. Dit maak vergelykings met ander lande en ’n evaluering van veranderings oor ’n verloop van tyd moontlik. Die gesondheid van ’n regering se toekomstige BBP-ratio’s, soos die verhouding van skuld tot BBP, is uiters afhanklik van gunstige BBP-groei. Oor die algemeen is voldoende BBP-groei ’n voorvereiste om die staat se begroting uit te brei.

Om dié punt te illustreer: Die bruto vlakke van Suid-Afrika se staatskuld is in die mini-begroting van Oktober 2015 op byna 47% van die BBP vir die 2015-boekjaar aangedui. Die nominale skuld sal volgens projeksies van R2 duisend miljard in die 2016-boekjaar tot R2,6 duisend miljard in die 2019-boekjaar toeneem. Berekenings vir jaar-op-jaar-groei dui daarop dat die bruto skuld in beide nominale én inflasieaangepaste (reële) terme sal toeneem. Ten spyte hiervan voer die tesourie aan dat die bruto skuld as ’n persentasie van die BBP op medium termyn sal “stabiliseer” en nooit 49,4% van die nominale BBP oorskry nie, om die skuld-tot-BBP-vlakke sodoende onder ’n waarskuwende sielkundige grens van 50% te hou. Aangesien die bruto staatskuld volgens projeksies teen ’n gespesifiseerde koers sal groei, maak die geprojekteerde “stabilisering” staat op saamgestelde nominale BBP-groei van kort by die 8,6% per jaar oor die tydperk van die mediumtermynvooruitskatting.

Laer BBP-groei sal dié ratio verswak. In die ergste geval, as die BBP op ’n jaar-op-jaar-grondslag beduidend inkrimp, sal dit ’n skielike skok in die skuld-tot-BBP-verhouding tot gevolg hê en tot ’n chaos in die staat se finansies lei. Byvoorbeeld, as ’n ekonomie ’n BBP van R1 000 in die eerste jaar het, met staatskuld ter waarde van R500, is die skuld-tot-BBP-ratio 50%. Kom ons sê in die volgende jaar groei die staat se skuld met 5% tot op R525, maar die BBP krimp met ʼn oordrewe 2% skerp in tot op R980. Nou het die skuld-tot-BBP-syfer beduidend verswak tot byna 54% van die BBP.

Ná die resessie van 2008/2009 het Griekeland met presies dieselfde dilemma gesit. Sy BBP het aansienlik ingekrimp. Sy buitensporige staatskuld is aan die lig gebring deur skuld-tot-BBP-verhoudings wat beduidend verswak het. Dit het internasionale uitleners en beleggers laat skrik en ’n skuldkrisis laat ontstaan. Hieruit behoort dit duidelik te wees dat regerings met aansienlike skuldvlakke, soos onder meer die Suid-Afrikaanse regering, uiters graag nominale BBP-groei wil sien, selfs al word daardie groei grotendeels danksy inflasie behaal.

Indien plaaslike BBP-groei volgens die nasionale tesourie se verwagtinge nominaal teen ’n saamgestelde 8,6% per jaar groei, behoort die huidige persentasie van die Suid-Afrikaanse regering se bruto skuld tot BBP onder 50% van die BBP te bly. Die huidige ekonomiese kopwinde terwyl die ekonomie swak is, dui egter daarop dat die teikens vir reële BBP-groei wat in die jongste mini-begroting van 2015 genoem is, waarskynlik nie verwesenlik sal word nie. Dit word beaam deur die tesourie se geskiedenis van makro-ekonomiese vooruitskattings wat oor die algemeen sedert 2008 ooroptimisties was (sien meegaande grafiek).

Teleurstellende reële BBP-groei laat ʼn regering egter nie magteloos in die aangesig van ’n verswakkende ekonomie nie. Regerings het ’n troefkaart om te speel: inflasie. In vorige uitgawes van hierdie rapport het ons geargumenteer dat die meeste regerings met baie skuld ’n inflasionêre ekonomiese omgewing sal verkies. So ’n omgewing stel ’n regering in staat om ouer skuld, aangegaan in ’n tyd toe die land se geldeenheid meer werd was, met ’n verwaterde geldeenheid te vereffen of te herstruktureer.

Om voort te bou op die vorige gesprek oor inflasie wil ons aanvoer dat inflasie ook belangrike BBP-ratio’s sodanig kan kamoefleer dat hulle beter lyk as wat hulle in werklikheid is. Kom ons veronderstel byvoorbeeld ’n regering beplan om sy bruto skuld met 10% op ’n jaargrondslag te verhoog, maar wil die skuld-tot-BBP-vlak op 50% bestendig. In dié voorbeeld moet die nominale BBP-groei 10% per jaar behaal om die toename in skuld te absorbeer. Nominale BBP-groei bestaan egter uit beide reële ekonomiese groei én ’n aanpassing vir inflasie. In die vereenvoudigde voorbeeld kan die mikpunt van 50% vir die skuld-tot-BBP-verhouding in jaar twee behaal word deur die ekonomie in reële terme te laat groei of deur inflasie te skep, of deur ’n mengsel van die twee, soos die meegaande tabel illustreer.

In al drie die scenario’s vir jaar twee hierbo neem die nominale BBP toe met ’n persentasie wat voldoende is om die groei van staatskuld teen 50% van die BBP te absorbeer. In hierdie voorbeeld maak inflasie dit moontlik dat die staatskuld toeneem sonder dat dit tot ’n waargenome verswakking van skuld-tot-BBP-verhoudings lei. Ongelukkig moet iemand vir die regering se inflasionêre kamoefleringstoertjie betaal. Scenario’s soos dié in een en drie – om ’n figuurlike scenario van onderskeidelik hoë en matige inflasie te verteenwoordig – sal die meeste mense skade aandoen, want inflasie steel in effek koopkrag uit jou sak. Scenario twee – wat hoë werklike groei verteenwoordig – sal voordelig wees en mense oor die algemeen welvarender maak.

Dit beteken dat relatiewe veranderings in nominale BBP-ratio’s oor ’n verloop van tyd nie die volle verhaal vertel nie. Dit beteken ook dat verskillende lande met soortgelyke skuld-tot-BBP-vlakke op verskillende maniere by daardie vlakke kon uitgekom het, óf deur inflasie, óf deur reële ekonomiese groei, of deur ’n mengsel van die twee. Veranderings in die vlakke van skuld-tot-BBP oor ’n tydperk moet gevolglik onder ’n vergrootglas bekyk word.

Toegepas op die huidige situasie in Suid-Afrika, dui die mini-begroting van Oktober 2015 daarop dat die “stabilisering” van staatskuld op medium termyn hoofsaaklik sal geskied deurdat hoë inflasie by die nominale BBP invoer. Die projeksie vir VPI-inflasie is juis dat dit binnekort by die boonste grens van die SARB se teikenband vir inflasie van tussen 3% en 6% sal wees. Met nog swakker reële groeivooruitskattings ’n wesenlike moontlikheid, kan ’n waarskynlike gevolg wees dat dit die regering aanspoor om nog inflasionêre beleidsmaatreëls te oorweeg. Ons kan verwag om binnekort met betrekking tot die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasieraamwerk meermale ’n verwysing na “eksogene skokke” en “onttrekkingsbepalings” te hoor.

In hierdie scenario kan die inflasiesyfer meebring dat die vlakke van skuld-tot-BBP bestendig lyk. Ongelukkig is staatskuld wat deur hoë inflasie gestabiliseer word nie iets waaroor gewone mense, wat aansienlik deur die uitwerking van inflasie benadeel word, kan juig nie.

  •  
  •  
  •  
  •  


Nuusbrief

KONTAK ONS

Telefonies

Tel.: 012 644 4300

Faks.: 012 664 1102

Fisiese adres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

H/v Eendracht en DF Malanstraat

Kloofsig

Lyttleton

Posadres

Die Solidariteit Navorsingsinstituut

Posbus 11760

Centurion

0046

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close